Afrikaans article on Nuus24 Sep 7th, 2011


KONGOS se wortels in SA

by Liezl Temmingh

Read the article on Nuus24.

Read the article in English via google translation.

Kaapstad – As ‘n mens na die tromritmes aan die begin van KONGOS se liedjie “I’m only joking” luister, is dit duidelik dat die musiekgroep se wortels steeds in Afrika vasgeanker is. En ek waarborg jou jy’t nog nooit ‘n trekklavier só gehoor nie.

Die koorgedeelte van die liedjie is aansteeklik en neem tans Suid-Afrikaanse radiostasies soos Tuks FM en 5FM se klankgolwe oor.

Tot die meeste mense se verbasing het die manne van KONGOS in Suid-Afrika grootgeword en ‘n paar jaar gelede na die VSA verhuis.

Nuus24 het met hulle gesels en uitgevind wie agter die KONGOS-bohaai sit.

KONGOS bestaan uit Johnny (30), Jesse (28), Dylan (25) en Daniel Kongos (22) – vier broers wat deur hul pa, John Kongos, bestuur word.

Hul pa, wat in Johannesburg gebore is en daar grootgeword het, is bekend vir sy liedjies “He’s Gonna Step on You” en “Tokoloshe Man”, wat in 1971 die lig gesien het.

Johnny, Jesse en Dylan is almal Londen-babas, terwyl Daniel in Johannesburg gebore is nadat die gesin in 1988 na Suid-Afrika verhuis het. Die familie het ‘n paar jaar later na Amerika getrek. Sedert 1996 noem die Kongos-broers Phoenix in die Amerikaanse deelstaat Arizona hul huis. Hul ma is oorspronklik van dié stad.

Die broers verwys na die Amerikaanse komediant George Carlin wanneer ek hulle uitvra oor hul hunkering na die sogenaamde American Dream.

Carlin het altyd gesê “dit word die Amerikaanse droom genoem want jy moet aan die slaap wees om dit te glo.”

“Maar, alle grappies op ‘n stokkie; Amerika is tot dusver ‘n wonderlike ervaring vir ons en dit voel steeds soos ‘n land van geleenthede,” vertel die groep.

Die broers sê hulle het nog nie weer ‘n draai in Suid-Afrika gemaak nie.

“Ons is eintlik nog nie terug vandat ons in ’96 verlaat het nie. Ons het skool klaargemaak, onsself probeer vestig en die musiekgroep aan die gang gekry. Voordat ons weer ons oë kon uitvee is vyftien jaar verby…”

Volgens die groep is hulle “baie opgewonde” om uiteindelik terug te keer, want dit was “gans te lank!”

Musiekliefhebbers kan uitsien na ‘n Suid-Afrikaanse toer in Desember/Januarie. Die manne is nog besig om uit te werk waar en wanneer hulle gaan optree.

KONGOS sê hulle verlang baie na die reënboognasie. Hulle verlang veral na die goeie vriende wat hulle hier gemaak het.

Een van hul gunsteling-herinneringe is toe hulle gesien het hoe die Springbokke die Wêreldbeker-rugbytoernooi in 1995 gewen het. The Rolling Stones se optrede by Ellispark sal hulle ook lank bybly.

Die broers het ook die geleentheid gehad om oudpres. Nelson Mandela te ontmoet toe hy destyds hul skool toegespreek het.

“En Jelly Tots! Ons verlang regtig baie na Jelly Tots,” voeg hulle vinnig by.

Die Kongos-broers erken dat hul lewe in die VSA hul Afrikaanse taalvaardighede ‘n knou toegedien het.

“Dis ‘n bietjie sleg nou,” skerts hulle in Afrikaans, alhoewel hulle nooit baie goed in die taal was nie.

“Dit kom veral handig te pas wanneer ons op die verhoog op mekaar skree en ons nie wil hê enigiemand moet ons verstaan nie. Blerrie bliksem bastard amplifier!”

I’m only joking

Volgens KONGOS het hulle die video vir “I’m only joking” heeltemal op hul eie maak werk.

“Ons het ‘n baie klein begroting gehad waarvan ‘n redelike gedeelte op pizza en bier vir die rolverdeling (meestal vriende) bestee is,” vertel hulle.

Dit het omtrent 12 ure geneem op die video te skiet. Die opname het die volgende oggend om 07:00 tot ‘n einde gekom toe ‘n klomp dronk mense in die swembad beland het. Die rede hiervoor is eenvoudig – hulle vertel die tonele waarin mense alkohol gedrink het, moes net te veel keer oorgeskiet word. Die video het wél baie voorbereiding geverg.

“Ons het dit by verskeie plekke in downtown Phoenix, Arizona, en by Tokoloshe Studios geskiet. Ons is baie bly dat die video se wêreldpremière op SABC 3 was,” vertel hulle.

KONGOS sê hulle is opgewonde om deel te vorm van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. “I’m only joking” verskyn saam met groepe soos Zebra and Giraffe, The Parlotones, The Graeme Watkins Project en aKing op die Just Music-album SA Hits.

“Toe ons vir die eerste keer Die Antwoord gehoor het, het ons nooit verwag dat hulle so gewild in die VSA sou wees nie…”

“Maar dis baie snaaks wanneer ons Amerikaanse vriende ons van die groep ‘Daai Aaantwerd’, soos hulle dit uitspreek, vertel.”

Maak seker jy vang KONGOS op Suid-Afrikaanse radiostasies. Die eerste vyf snitte van hul opkomende album is gratis op hul webtuiste beskikbaar.

Bly op hoogte van KONGOS se doen en late op Facebook of volg die groep op Twitter.

- Alle foto’s verskaf

Volg Nuus24 op Twitter.

- Nuus24

Tags: , , , , ,

Leave a Comment

Connect with Facebook